Get Adobe Flash player

Verna Vels se laaste Liewe Heksie-storie in jou sitkamer

Verna Vels se laaste Liewe Heksie-storie in jou sitkamer
Share

Lefra Kelderkonsert: Sondag, 4 Oktober 2020 om 17:00

Besprekings: www.itickets.co.za

Meer inligting: www.lieweheksie.co.za

Verna Vels geliefde Liewe Heksie, wat terloops op 42 April verjaar, kruip geslag ná geslag diep in kinderharte.  Sy sukkel soms met lang woorde, maar gelukkig is Blommie die Kabouter en haar geliefde Matewis die kat altyd naby om te help.  Maar toe Casper die tuindwerg op ’n dag wakker word in Liewe Heksie se tuin, is daar drama van begin tot einde.  Want wie is dit agter daardie boom? Kan dit ’n stoute Gifappeltjie wees?  Die maats moet kom uitvind, want Liewe Heksie en die Tuindwergie word eksklusief as deel van Lefra se Kelderkonserte aangebied op Sondag, 4 Oktober 2020 om 17:00.  Besprekings by www.iticket.co.za  Innibos Digitaal het LIEWE HEKSIE EN DIE TUINDWERGIE vroeër vanjaar opgeneem en word nou eksklusief ook as deel van die Lefra Kelderkonserte aangebied.   Liewe Heksie en die Tuindwergie word met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Renegades Removals, Ambassador Execudrive, Innibos Digitaal en Savvy Holdings aangebied.

Liewe Heksie en die Tuindwergie is die laaste Liewe Heksie-storie wat Verna Vels geskryf het, spesiaal vir Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksies.  Frans het sy tande geslyp by die destydse SAUK televisie as televisiekameraman.  Hy het op heelwat groot produksies gewerk, maar een van sy hoogtepunte was beslis die kamerawerk op die televisiereeks, Liewe Heksie.  So het hy vir Verna Vels ontmoet, wat op daardie stadium Bestuurder van Kinderpogramme was.  “Sy was die wonderlikste en mees kreatiewe mens.  Sy was bereid om al haar kennis as skrywer vir kinders met my te deel en vir my ook te leer om vir kinders te skryf.  Ek was verantwoordelik vir ‘n hele aantal Wielie Walie-tekste, daarna het Vuurhoutjieland gevolg, Siembamba en so het ek ook my eerste kinderboek, Blouvlam die Draak geskryf onder die bekwame oog van Verna.”  Frans voeg by dat sy maar net verstaan het hoe kinders dink en wat gryp kinders aan.  “Liewe Heksie is beslis so ‘n voorbeeld – ons praat al van ‘n paar generasies wat die klein heksie oorgedra het aan ‘n volgende generasie.  Verna het so totaal verstaan hoe om met kinders te kommunikeer deur Heksie en die ander karakters, want Heksie verstaan ook nie mooi van ‘groot woorde’ nie.  En Heksie kom gewoonlik in die moeilikheid oor iets wat sy nie beplan het om haar in die moeilikheid te bring nie.”

Swart was verantwoordelik om heelwat Liewe Heksie-stories vir die verhoog te verwerk en aan te pas. “Ons het gewoonlik ‘n paar stories gekombineer om uiteindelik by die verhoogproduksie uit te kom.  Onthou ook, ons uitdaging was altyd om al die karakters van Blommeland uit te beeld met net vier akteurs.  Dit was somtyds ‘n groot uitdaging,” sê Swart. “want Blommeland het baie karakters!  Natuurlik was dit op radio baie makliker om soveel karakters te skep.”  Vier baie taletvolle akteurs gee aan die Liewe Heksie-karakters lewe op die verhoog.  Anmari van Achterbergh speel die rol van Liewe Heksie, Botha Enslin die rolle van Mattewis, Kwaaitjie Kabouter, die Geelheks, Borrie die Gifappeltjie, Griet, Karel Kat en Koning Rosekrans.  Debrè Opperman is te siene as Blommie, Kerrie die Gifappeltjie en Koning Rosekrans.  Phillru van Achterbergh vertolk onder andere Casper, die Tuindwergie, ‘n Gifappeltjie en Klein Kwaaitjie.

Hy vertel verder dat hy en Verna ten minste een keer per maand gaan tee drink het.  Tydens die tee- en geselssessie het hy Verna amper mal gehad het om nog Heksie-stories te skryf.  Verna en Frans se werkswyse was dat Verna die storie skryf en dan hanteer Frans die verhoogteks.  Sy het bly sê dat sy nou uitgeskryf is aan Heksie, maar Frans het net aanhou bly karring!  “En toe ons weer eendag tee drink, toe sê sy uit haar eie uit dat sy dink Heksie moet ‘n tuindwergie ontmoet.  So is Liewe Heksie en die Tuindwergie gebore kort voor Verna oorlede is.  Verna het vir my vertel dat sy een aand gedroom het dat Karel Kat se huismense vir Casper, die tuindwergie wou weggooi omdat tuindwergies uit die mode uit gegaan het.  Ek onthou so goed dat sy so lekker gelag het toe sy gesê het: ‘Maar ek sien tuindwergies kom nou weer in die mode.  Modes herhaal mos maar!’

Op 21 Augustus 2014 verloor Verna haar stryd teen kanker.  “Ek en my vrou, Hannelie, was in Londen toe ons die tyding kry.  Londen was vaal en grou en dit was beslis nie vir my ‘n lekker dag nie.  JacarandaFM wou ‘n huldeblykonderhoud met my doen.  Ek het weggespring en toe raak die emosie te erg.  Ek moes vir die joernalis vra om my net ‘n halfuur te gee om ‘n eg-Londense bier te gaan drink en moed te kry om oor Verna te gesels.  Sy was ongelooflik lief vir reis en dit was net vir my so ironies dat ek in Londen ‘n huldeblyk aan Verna Vels doen.”

Swart vertel verder dat Verna baie lief was om begraafplase op te soek om veral bekendes se grafte te “ontdek”.  “Sy het vir my vertel dat sy een keer in Berlyn was.  Sy het êrens gelees dat Marlene Dietrich in Berlyn se begraafplaas begrawe is. Toe sy by die hek van die begraafplaas kom, wou die opsigter vir Verna gaan wys waar die graf is, maar Verna het gesê sy moet dit self soek en ontdek.  Sy het gesoek totdat sy by die klein grafsteentjie gekom het.  Op die grafsteen was net geskrywe: MARLENE.”

Bederf die kleinspan – en jouself – deur nou vir hierdie wonderlike produksie te bespreek by www.itickets.co.za   Bring die jongspan en kom ontmoet Liewe Heksie, Blommie Kabouter, Kwaaitjie Kabouter en die Tuindwergie in jou sitkamer

 abr logo280