Get Adobe Flash player

Tasché (wenner van THE VOICE) bring hulde aan Gé Korsten

Tasché (wenner van THE VOICE) bring hulde aan Gé Korsten
Share

Vanjaar se THE VOICE-wenner, Tasché, is een van die kunstenaars wat hulde bring aan Gé Korsten, in Frans Swart se produksie, GÉ SING: HOOR MY LIED wat op 31 Augustus 2019 by Carnival City se Big Top Arena aangebied gaan word.  Besprekings kan gedoen word by Computicket of groepe meer as 10 by (011) 815 3000.  Ander kunstenaars wat saam met Tasché gaan hulde bring aan hierdie legendariese superstar, is André Schwartz, Jannie Moolman, Arina de Witt, die PJ Twins (ook bekend geword in The Voice) Louis Loock en ‘n negejarige knapie, Scott Engelbrecht, wat opera soos ‘n Engel kan sing.

Frans Swart, regisseur en samesteller van GÉ SING: HOOR MY LIED sê toe hy hoor hoe Tasché Johannes Kerkorrel se HILLBROW sing en veral vertolk, het hy geweet Tasché moet in hierdie produksie.  “Ek en Francois van Coke, wat haar afrigter in THE VOICE was, het vinnig gesels en dadelik besluit dat sy perfek in die produksie gaan wees.  Gé se musiek was so universeel en hy het werklik by elke ouderdomsgroep aanklank gevind – so dit is juis ook gepas om van die jonger generasie aan sy musiek bloot te stel.” 

Swart het eksklusief ook aan Beeld bekend gemaak dat daar ‘n spesiale liedjie vir Gé geskryf word en wat deur Tasché vir die eerste keer in GÉ SING: HOOR MY LIED gesing gaan word.  Swart het die lirieke geskryf en Chanie Jonker, die Musikale Regisseur van die produksie, het die musiek geskryf.  “Ek was kameraman op die GÉ SING televisieproduksies en het Gé baie goed leer ken.  Later jare het ons baie saam aan verskeie konserte en optredes gewerk.  Dit was dus vir my baie maklik om hierdie liedjie vir Gé te skryf om spesifiek aan hierdie groot gees hulde te bring.  Chanie het dit so gekomponeer dat dit net met trekklavier, ghitaar en Tasché se besondere stem uitgevoer gaan word.”

Tasché se sy is baie geëerd om in deel van hierdie produksie te wees.  “My ouers het altyd na Gé Korsten se musiek geluister en juis daarom ken ek dit ook so goed.  Ek is ook opgewonde dat ek saam met so ‘n uitgelese groepe kunstenaars kan optree om hulde te bring aan Gé Korsten. Ek kan nie wag nie!”

GÉ SING: HOOR MY LIED word op 31 Augustus om 20:00 by die Big Top Arena van Carnival City aangebied.  Kaartjies by Computicket 08619158000 of groepe meer as 10, skakel Monica by (011) 815 3000.  Meer inligting by www.gesing.co.za

 abr logo280