Get Adobe Flash player

Hoërskool Jeugland en Laerskool Baanbreker is vanjaar se wenners in REVUE 2018!

Algehele wenners Hoerskool Jeugland:  Jaun-Nu Olivier, Frans Swart, Heinrich Greef
Share

 Die wenners in Lefra Produksies se baie gewilde revuekompetisie, REVUE! is so pas aangewys.  Laerskool Baanbreker van Boksburg het die Laerskole-afdeling gewen, met Hoërskool Jeugland van Kempton Park wat die Hoërskole-afdeling gewen het vir die tweede agtereenvolgende jaar.  Hoërskool Jeugland is ook aangewys as die Algehele Wenner van REVUE!  Laerskool Hennopsprak van Centurion was tweede en Rustenburg se Laerskool Vastrap was in die derde plek.  Hoërskool Menlopark van Pretoria was tweede in die Hoërskole-afdeling, met Hoërskool Die Anker van Brakpan in die derde plek.  Die finaal van die jaarlikse revuekompetisie is op Woensdag, 12 September in Carnival City se Big Top Arena aangebied.

 Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksies en ook regisseur van REVUE!, en waar die idee van ‘n Nasionale Revuekompetisie ontstaan het, sê dat hy baie opgewonde is oor die standaard van die revues. “Vanjaar se standaard was werklik baie hoog.  Vir my is die revues in der waarheid mini-musiekblyspele.  Ons het wonderlike beoordelaars gehad – Lizz Meiring, Duane Williams (Sewendelaan en West Side Story) en Helene Bester.  Die finaliste se punte was baie na aan mekaar en die beoordelaars moes werklik kopkrap om die beste revues as wenners aan te wys”, sê Swart.  “Daar is tydens die finale baie streng en tegnies beoordeel.  Ons revue-kompetisie het spesifieke reëls om aan die genre “revue” te voldoen.  REVUE! is vir my ‘n extravaganza van musiek, dans, kostuums, klank en kleur.  Die beoordelaars het baie streng op hierdie formate van die revues gefokus.  Natuurlik was dit vir die beoordelaars baie belangrik dat die beste revues moes wen.”

Swart sê dat die kompetisie op ‘n uitklopbasis aangebied is.  “Ons het ook ‘n realiteitshoek aan die hele kompetisie gegee.  Ons besef die kompetisie-element is baie belangrik, want skole ding graag met mekaar mee.  Maar vir my was dit nog altyd belangriker dat dit eerder ‘n revue-fees moet wees as ‘n revue-kompetisie.  Vanjaar was dit vir my lekker om te sien hoe die deelnemers met mekaar kommunikeer, lag en gesels.  Dit het my ook opgeval tydens die finaal dat ouers en ondersteuners nie net hulle eie skool aangemoedig het met applous nie, maar dat hulle luide applous vir al die skole en hul deelnemers gegee het.  Dit wys net vir my dat REVUE! ‘n belangrik rol speel veral as revue-fees.”

Vanjaar se kompetisie sal veral onthou word vir die agtjarige Joshua Ziervogel van Laerskool Van Riebeeckpark se Junior-revue, Riebies Diner.  Hy het sosiale media aan die gons nadat Swart een aand ‘n videogreep van klein Joshua se optrede op Facebook geplaas met die inskrywing: “Die enetjie het die show gesteel vanaand.  Te blerrie cute!”  Binne ‘n dag het meer as 50,000 mense die video gesien en het dit vining begin aanstuur.  Tans het meer as 341,000 mense na klein Joshua se optrede gekyk.  Swart sê is eintlik nie te verbaas nie.  “Ek is al 40 jaar in die vermaakbedryf en talent soos Joshua spring dadelik na mens toe uit.  Toe ek die mannetjie sien sing, dans en optree, het ek onmiddellik besef dat hier ‘n nuwe ster in Suid-Afrika gebore word.  Natuurlik is mens altyd baie verbaas as die publiek skielik so reageer en dan besef jy ook dat jou oordeelsvermoë jou ook nie in die steek gelaat het nie.  ‘n Mens moet hom op die verhoog beleef om werklik sy talent te kan waardeer.”

Groot pryse was op die spel en elke deelnemer ontvang ‘n sertifikaat van deelname.  Elke wenskool het ‘n R10,000.00 kontantprys ontvang, met R5,000.00 vir die tweede plekke en R3,000.00 vir die derde plekke.  Daar is ook ‘n lekker verrassing vir die revue organiseerders – die wen laer- en hoërskool se revue organiseerders het ook elkeen ‘n kajuit vir twee na die suksesvolle Oppiwater Kunstefees 2019 op die luukse MSC Musica van Durban na Mosambiek gewen.  Die Oppiwater Kunstefees 2019 vind vanaf 15 tot 19 April plaas.  As algehele wenner, wen Hoërskool Jeugland ook ‘n gratis vertoning van een van Lefra se topproduksies, wat gebruik kan word as ‘n fondsinsamelingsprojek.  Wenskole ontvang ook pragtige trofees wat deur die skool gehou kan word.

REVUE! was aangebied met die vriendelike samewerking van Carnival City, Stuttaford Van Lines, Hollywood Costumes en Neuhoff Ouditeure.

Skole wat vir 2019 se kompetisie wil inskryf, wat weer tydens Augustus en September by Carnival City aangebied gaan word, kan ‘n e-pos stuur aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

Vir meer inligting oor REVUE! kontak asseblief vir Lefra Kommunikasie en Bemarking by (011) 815 3000 of stuur ‘n epos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.  Besoek gerus die webtuiste www.revues.co.za vir al die inligting!

 

 abr logo280