Get Adobe Flash player

Sien #ChrisChameleon by #INNIBOS in #FLENNIEDIESNARE soos jy hom nog nooit tevore gesien het nie!

Sien Chris Chameleon by INNIBOS in FLENNIE DIE SNARE soos jy hom nog nooit tevore gesien het nie!
Share

Chris Chameleon is weer eens die verkleurmannetjie in FLENNIE DIE SNARE as hy nuwe betekenis gee aan die werke van die immergewilde skrywer, Boerneef.  Chris speel Isak van der Merwe (Boerneef), hy is een van die LIGSTRAALSUSTERS van Calitzdorp, hy is Klara Majola se blinde Pa en dan rock en roll Chris op een van Boerneef se gedigte, VARKLEERBAADJIE EN KLINKNAELBROEK.  Alles in FLENNIE DIE SNARE met ‘n sterbelaaide rolverdeling soos Anna Davel, Johny Klein, Daniella Deysel, Jaconell Mouton, Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg.  Die teks en regie is deur Frans Swart en die musikale regie deur Jaconell Mouton.

Bantom hom so

En flennie die snare

Ek is verlief op die kind

Die son slaan vuur uit die sweetvoshare

Ek is verlief op die kind

  • Boerneef
  • “Voshaarnooi” getoonset deur Louis van Rensburg

Hierdie (nou reeds welbekende) woorde verskyn in 1959 in een van Boerneef se gedigte in sy tweede bundel Ghaap en kambro.  In 1986 skep Louis van Rensburg die ikoniese lied Voshaarnooi deur drie van Boerneef se gedigte te kombineer en te toonset.  Vosjaarnooi word gebruik as ‘n temalied vir die televisiereeks Ballade vir ‘n Enkeling.  Boerneef was skrywer, digter, leksikograaf en akademikus, en laat ‘n skatkis van prosa en poësie agter na sy afsterwe op 2 Julie 1967.  En nou, 50 jaar na sy dood, word Boerneef vereer in woord en klank in die produksie Flennie die Snare by die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees, vanaf 5 tot 8 Julie in die Nelspruit Hoërskool-ouditorium.

Flennie die Snare word aangebied met die ruim ondersteuning van die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees, en die samewerking van Stuttaford van Lines, RSG, Sounds Good.  Besprekings kan by Computicket gemaak word by 0861 915 8000 of www.computicket.com. Groepe van meer as 10 kry ’n stewige afslag; kontak asseblief Lefra Produksies by 011 815 3000, of stuur ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

Boerneef, die skrywersnaam van Izak Wilhelmus van der Merwe, is op 11 Mei 1897 op Boplaas in Ceres se Koue Bokkeveld gebore.  Hy het in Ceres skoolgegaan en later aan die Universiteit van Kaapstad studeer, waar hy 'n meestersgraad en 'n B.Ed.-graad voltooi het.  Na sy studies het hy hom as onderwyser aan die Suid-Afrikaanse Kollege Hoërskool bekwaam.  In die dertigerjare is hy een van die leidende figure in die Kaapse letterkundige kringe, wat ook N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Hettie Smit, F.J. le Roux en J. du P. Scholtz insluit.  Hy is in 1936 ’n stigterslid van die Vereniging vir die Vrye Boek, wat onder meer Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan en Van Wyk Louw se Die halwe kring publiseer.  Boerneef se eerste skryftaak (onder sy regte naam) was om saam met professor D.B. Bosman (en later ook L.W. Hiemstra) ’n Tweetalige Woordeboek vir Engels en Afrikaans saam te stel, wat dan ook die standaardwerk op hierdie gebied word (eerste uitgawe in 1936 en daarna telkens hersien en aangevul).  Tussen 1922 en 1961 was hy 'n dosent en later 'n professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad.  Boerneef was ‘n woordkunstenaar wat taal soos ‘n instrument hanteer het, en ontvang hy in 1963 postuum die Hertzog-prys vir poësie.

Sy eerste bundel kortverhale of sketse is Boplaas, waarin hy stories vertel oor sy jeugherinneringe van sy kontrei en ook die legendariese Dirk Ligter aan ’n breër publiek bekendstel.  Die lewe op ’n plaas in vergange jare word in sy voorspoed en teenspoed geteken, met die plaaswerkers en plaasdiere as belangrike karakters.  Hy word beskou as 'n fyn prosaïs en die beste onder die Afrikaanse skrywers wat "klein-realisme" of "fantasie-realisme" gelewer het.  Hierdie skrywers het hulself buite die groter lewensproblematiek gestel, en hul blik gevestig op volkstipes, eenvoudige lui, kleindorpse lewe en die noue lewenskringe daarvan.

Hoewel Boerneef hom aanvanklik op die prosa toespits, slaan hy later oor na die poësie, eers met ’n paar gedigte in die verhalebundel Teen die helling en later met volwaardige digbundels.  Sy volksverse bring vernuwing in die digkuns weens die aardsheid en moderniteit daarvan.  Die musikaliteit en ritme is veral kenmerkend van sy gedigte.  Dit is juis hierdie musikaliteit van sy poësie wat onder andere die komponis Pieter de Villiers geinspireer het om heelwat van Boerneef se bekendste gedigte te toonset, waaronder Die berggans het 'n veer laat val en Aandblom is 'n witblom.  Dit was 'n belangrike toevoeging tot die repertoire van die Afrikaanse lieder, en 'n gunsteling van die wêreldbekende Suid-Afrikaanse sopraan Mimi Coertse.  In Flennie die Snare word heelwat van die ouer Boerneef toonsettings gehoor soos Die Berggans het ‘n veer laat val en Voshaarnooi, maar ook splinternuwe opwindende toonsettings deur Rudolph Pretorius, Anna Davel, Chris Chameleon en Stef Bos.

Frans Swart is die regisseur en ook skrywer en verwerker van Flennie die Snare.  Hy is ‘n Boerneef-liefhebber en het reeds dertig jaar gelede ‘n Boerneef-produksie saam met die PATSO-toneelspelers aangepak.  “Flennie die Snare is baie persoonlik vir my.  Juffrou Aletta Gericke van die ADK was my mentor en het my al baie vroeg in my lewe bekend gestel aan die wonderwêreld van Boerneef.  Daardie woorde wat klank en musiek word.  Kyk man, ons moes Boerneef vir juffrou Aletta doen tot dit by ons ore uitkom.  Ironies genoeg, toe ek my eie Dramaskool jare gelede gehad het, moes die dramastudente ook Boerneef doen tot dit by hulle ore uitkom.”  Frans lag lekker en sê Flennie die Snare het eintlik net gewag om te gebeur.  “Dit moes gebeur!  Een dag gesels ek met Philna Scholtz van die Innibos Kunstefees, wat net so lief is vir poësie soos ek is en ek sê dis nou tyd vir ‘n Boerneef-produksie.  Net daar sê Philna toe – maar kom ons doen Boerneef.  Ons hier by Innibos gaan jou help om Flennie die Snare op die planke kry!  En so is Flennie gebore”.

Swart is baie opgewonde oor die rolverdeling.  “Alles het net in plek geval.  Ek wou so graag vir Chris Chameleon gehad het om in Flennie op te tree.  Nie net as sanger nie, maar ook as akteur.  Chris het onmiddellik ja gesê en hy bring ‘n ongelooflike kreatiwiteit na die produksie toe.  Anna Davel het ‘n ongelooflike stemkwaliteit, maar sy is ook ‘n besonders talentvolle aktrise.  Anna bring daardie nostalgiese musikaliteit, sy sing en speel toneel.  Johny Klein is akteur van formaat en ons het hom in die diepkant ingegooi, want in hierdie produksie gaan jy ook vir Johny hoor sing.  Danielle Deysel is ook sangeres en aktrise en Daniella bring veral Boerneef se speelsheid na die produksie.”

Wat kan gehore te wagte wees?  Frans antwoord entoesiasties!  “Pret en nogmaals pret.  Baie mooi sang en musiek, toneel, poësie, lekkerlag komedie en baie hartseer drama en nostalgie.  Hope daarvan.  Jy weet Boerneef was ‘n volksdigter en ‘n volksskrywer.  Hy het oor alledaagse mense en dinge geskryf.  Hy het ook geskryf soos die mense die Taal gepraat het daar in die Koue Bokkeveld.  Hy het hom ook min gesteur aan wat die letterkundiges van die tyd oor sy werk gesê het.  Hy het geskryf oor dit wat vir hom lekker en mooi was.  Ek spot altyd en sê hy was eintlik soos die Lefra van daardie tyd se letterkunde!  Eerlik, maar lekker kommersieel!  Mense moenie ‘n swaar letterkundige affêre verwag nie – Flennie die Snare is lig en loslit en Boerneef se woorde steeds so vol klanke en musiek soos altyd!  En ek kan ook ‘n geheimpie uitlap – die orkes speel ook toneel.  So as jy altyd vir Jaconell Mouton, Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg as akteurs wou sien, mag jy nie Flennie die Snare misloop nie.”

 abr logo280