Get Adobe Flash player

Boerneef herleef Boerneef by INNIBOS met FLENNIE DIE SNARE!

Boerneef herleef Boerneef  by INNIBOS met  FLENNIE DIE SNARE!
Share

Bantom hom so

En flennie die snare

Ek is verlief op die kind

Die son slaan vuur uit die sweetvoshare

Ek is verlief op die kind

    - Boerneef

    - Voshaarnooi getoonset     deur Louis van Rensburg

Hierdie (nou reeds welbekende) woorde verskyn in 1959 in een van Boerneef se gedigte in sy tweede bundel Ghaap en kambro.  In 1986 skep Louis van Rensburg die ikoniese lied Voshaarnooi deur drie van Boerneef se gedigte te kombineer en te toonset. Voshaarnooi word gebruik as ‘n temalied vir die televisiereeks Ballade vir ‘n Enkeling.  Boerneef was skrywer, digter, leksikograaf en akademikus, en laat ‘n skatkis van prosa en poësie agter na sy afsterwe op 2 Julie 1967.  En nou, 50 jaar na sy dood, word Boerneef vereer in woord en klank in die produksie Flennie die Snare by die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees, vanaf 5 tot 8 Julie in die Nelspruit Hoërskool-ouditorium met ‘n sterbelaaaide rolverdeling en kreatiewe span.  Chris Chameleon, Anna Davel, Johny Klein en Daniella Deysel deel die verhoog met Jaconell Mouton (musikale regisseur), Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg.  Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie.

Flennie die Snare word aangebied met die ruim ondersteuning van die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees, en die samewerking van Stuttaford van Lines, RSG, Sounds Good.  Besprekings kan by Computicket gemaak word by 0861 915 8000 of www.computicket.com. Groepe van meer as 10 kry ’n stewige afslag; kontak asseblief Lefra Produksies by 011 815 3000, of stuur ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

FLENNIE DIE SNARE speel by Innibos by die Nelspruit Hoërskool Ouditorium op die volgende dae:

 

  • Woensdag, 5 Julie 2017 om 18:00
  • Donderdag, 6 Julie 2017 om 10:00
  • Vrydag, 7 Julie 2017 om 15:00
  • Saterdag, 8 Julie 2017 om 15:00

Boerneef, die skrywersnaam van Izak Wilhelmus van der Merwe, is op 11 Mei 1897 op Boplaas in Ceres se Koue Bokkeveld gebore.  Hy het in Ceres skoolgegaan en later aan die Universiteit van Kaapstad studeer, waar hy 'n meestersgraad en 'n B.Ed.-graad voltooi het.  Na sy studies het hy hom as onderwyser aan die Suid-Afrikaanse Kollege Hoërskool bekwaam.  In die dertigerjare is hy een van die leidende figure in die Kaapse letterkundige kringe, wat ook N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Hettie Smit, F.J. le Roux en J. du P. Scholtz insluit.   Boerneef was ‘n woordkunstenaar wat taal soos ‘n instrument hanteer het, en ontvang hy in 1963 postuum die Hertzog-prys vir poësie.

In Flennie die Snare word heelwat van die ouer Boerneef toonsettings gehoor soos Die Berggans het ‘n veer laat val en Voshaarnooi, maar ook splinternuwe opwindende toonsettings deur Rudolph Pretorius, Anna Davel, Chris Chameleon en Laurika Rauch

Frans Swart is die regisseur en ook skrywer en verwerker van Flennie die Snare.  Hy is ‘n Boerneef-liefhebber en het reeds dertig jaar gelede ‘n Boerneef-produksie saam met die PATSO-toneelspelers aangepak.  “Flennie die Snare is baie persoonlik vir my.  Juffrou Aletta Gericke van die ADK was my mentor en het my al baie vroeg in my lewe bekend gestel aan die wonderwêreld van Boerneef.  Daardie woorde wat klank en musiek word.  Kyk man, ons moes Boerneef vir juffrou Aletta doen tot dit by ons ore uitkom.  Ironies genoeg, toe ek my eie Dramaskool jare gelede gehad het, moes die dramastudente ook Boerneef doen tot dit by hulle ore uitkom.”  Frans lag lekker en sê Flennie die Snare het eintlik net gewag om te gebeur.  “Dit moes gebeur!  Een dag gesels ek met Philna Scholtz van die Innibos Kunstefees, wat net so lief is vir poësie soos ek is en ek sê dis nou tyd vir ‘n Boerneef-produksie.  Net daar sê Philna toe – maar kom ons doen Boerneef.  Ons hier by Innibos gaan jou help om Flennie die Snare op die planke kry!  En so is Flennie gebore”.

Wat kan gehore te wagte wees?  Frans antwoord entoesiasties!  “Pret en nogmaals pret.  Baie mooi sang en musiek, toneel, poësie, lekkerlag komedie en baie hartseer drama en nostalgie.  Hope daarvan.  Jy weet Boerneef was ‘n volksdigter en ‘n volksskrywer.  Hy het oor alledaagse mense en dinge geskryf.  Hy het ook geskryf soos die mense die Taal gepraat het daar in die Koue Bokkeveld.  Hy het hom ook min gesteur aan wat die letterkundiges van die tyd oor sy werk gesê het.  Hy het geskryf oor dit wat vir hom lekker en mooi was.  Ek spot altyd en sê hy was eintlik soos die Lefra van daardie tyd se letterkunde!  Eerlik, maar lekker kommersieel!  Mense moenie ‘n swaar letterkundige affêre verwag nie – Flennie die Snare is lig en loslit en Boerneef se woorde steeds so vol klanke en musiek soos altyd!  En ek kan ook ‘n geheimpie uitlap – die orkes speel ook toneel.  So as jy altyd vir Jaconell Mouton, Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg as akteurs wou sien, mag jy nie Flennie die Snare misloop nie.

Jaconell Mouton

Musikale regisseur Jaconell Mouton is op Citrusdal gebore en het grootgeword op 'n pragtige lemoenplaas met ‘n uitsig op die Sederbergberge - Boerneef se wêreld.  Sy het op die ouderdom van vier jaar op gehoor begin klavier speel, en het op agt jaar geleer hoe om musiek te lees en met haar klassieke begin opleiding begin.  Na skool het sy aan die destydse Pretoria Technikon, nou beter bekend as die Tshwane Universiteit van Tegnologie, Jazz studeer en word vandag beskou as een van Suid-Afrika se top musikale regisseurs.   Haar werk sluit lewendige optredes, albums, DVD's en TV-werk in.  Jaconell is veral bekend as deel van die Musiekfabriek op televisie se Noot vir Noot.

Frans Swart

Regisseur en skrywer, Frans Swart is reeds die afgelope 38 jaar baie aktief in Suid-Afrika se vermaaklikheidswêreld.  Hy begin sy loopbaan as TV-kameram by die SAUK waar hy dan ook heelwat kinderreekse vir televisie skryf.  Hy publiseer sy eerste kinderboek, Blouvlam die Draak op die ouderdom van 22.  Hy maak ‘n draai in die Skakel- en Bemarkingswese, maar sy eerste liefde bly die teater en word hy aangestel as die Direkteur van die Springs Stadsteater.  Vir die afgelope vyftien jaar is Frans die Besturende Direkteur van Lefra Produksies.  Hy doen onder andere die regie van Liewe Heksie, My Man se Vrou se Man, My Man se Lyk se Tas, My Boetie se Sussie se Ou, Daa’ Gaat die Bruid en My Man se Skelmpie se Skelmpie se Vrou wat hom die titel van Klugkoning van Suid-Afrika gee.  Hy het vanjaar ook die regie waargeneem van  Dalene Matthee se Fiela se Kind.

Riaan van Rensburg

Riaan van Rensburg is deel van een van Suid-Afrika se mees geliefde musikale families, die enigste seun van Johan van Rensburg en Rina Hugo.  Volgens Riaan was musiek sy passie vir so lank as wat hy kan onthou.  Sy ouers het vroeg reeds hierdie passie raak gesien en aangemoedig, en het Riaan in 1980 op die ouderdom van net vier jaar oud op sy eerste televisie-optrede gehad.  Ironies genoeg was Frans Swart kameraman op daardie program waar die kleine Riaan die dromme so gemoker het.  Riaan is ook deel van Noot vir Noot se Musiekfabriek vir meer as 30 seisoene.

Kom raak verlore in Boerneef se Boplaas - van Vlettervlie tot Koesnaatjie!  Bespreek nou by Computicket. O ja, die Ligstraalsusters van Calitzdorp kom ook optree!  Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000 of by enige tak van Computicket.  Ook op die webtuiste www.computicket.com  Groepe meer as 10, kry lekker afslag – skakel vir Monica by (011) 815 3000.  Besoek gerus ook www.flenniediesnare.co.za

 

 abr logo280