Get Adobe Flash player

Flennie Die Snare bring hulde aan Boerneef in woord en klank

Flennie Die Snare bring hulde aan Boerneef in woord en klank
Share
  • PREMIERE BY DIE INNIBOS KUNSTEFEES

Bantom hom so

En flennie die snare

Ek is verlief op die kind

Die son slaan vuur uit die sweetvoshare

Ek is verlief op die kind

  • Boerneef
  • “Voshaarnooi” getoonset deur Louis van Rensburg

Hierdie (nou reeds welbekende) woorde verskyn in 1959 in een van Boerneef se gedigte in sy tweede bundel Ghaap en kambro. In 1986 skep Louis van Rensburg die ikoniese lied Voshaarnooi deur drie van Boerneef se gedigte te kombineer en te toonset. Vosjaarnooi word gebruik as ‘n temalied vir die televisiereeks Ballade vir ‘n Enkeling. Boerneef was skrywer, digter, leksikograaf en akademikus, en laat ‘n skatkis van prosa en poësie agter na sy afsterwe op 2 Julie 1967. En nou, 50 jaar na sy dood, word Boerneef vereer in woord en klank in die produksie Flennie die Snare by die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees, vanaf 5 tot 8 Julie in die Nelspruit Hoërskool-ouditorium met ‘n sterbelaaaide rolverdeling en kreatiewe span. Chris Chameleon, Anna Davel, Johny Klein en Daniella Deysel deel die verhoog met Jaconell Mouton (musikale regisseur), Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg. Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie.

Flennie die Snare word aangebied met die ruim ondersteuning van die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees, en die samewerking van Stuttaford van Lines, RSG, Sounds Good. Besprekings kan by Computicket gemaak word by 0861 915 8000 of www.computicket.com. Groepe van meer as 10 kry ’n stewige afslag; kontak asseblief Lefra Produksies by 011 815 3000, of stuur ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

Boerneef, die skrywersnaam van Izak Wilhelmus van der Merwe, is op 11 Mei 1897 op Boplaas in Ceres se Koue Bokkeveld gebore. Hy het in Ceres skoolgegaan en later aan die Universiteit van Kaapstad studeer, waar hy 'n meestersgraad en 'n B.Ed.-graad voltooi het. Na sy studies het hy hom as onderwyser aan die Suid-Afrikaanse Kollege Hoërskool bekwaam. In die dertigerjare is hy een van die leidende figure in die Kaapse letterkundige kringe, wat ook N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Hettie Smit, F.J. le Roux en J. du P. Scholtz insluit. Hy is in 1936 ’n stigterslid van die Vereniging vir die Vrye Boek, wat onder meer Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan en Van Wyk Louw se Die halwe kring publiseer. Boerneef se eerste skryftaak (onder sy regte naam) was om saam met professor D.B. Bosman (en later ook L.W. Hiemstra) ’n Tweetalige Woordeboek vir Engels en Afrikaans saam te stel, wat dan ook die standaardwerk op hierdie gebied word (eerste uitgawe in 1936 en daarna telkens hersien en aangevul). Tussen 1922 en 1961 was hy 'n dosent en later 'n professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad. Boerneef was ‘n woordkunstenaar wat taal soos ‘n instrument hanteer het, en ontvang hy in 1963 postuum die Hertzog-prys vir poësie.

Sy eerste bundel kortverhale of sketse is Boplaas, waarin hy stories vertel oor sy jeugherinneringe van sy kontrei en ook die legendariese Dirk Ligter aan ’n breër publiek bekendstel. Die lewe op ’n plaas in vergange jare word in sy voorspoed en teenspoed geteken, met die plaaswerkers en plaasdiere as belangrike karakters. Hy word beskou as 'n fyn prosaïs en die beste onder die Afrikaanse skrywers wat "klein-realisme" of "fantasie-realisme" gelewer het. Hierdie skrywers het hulself buite die groter lewensproblematiek gestel, en hul blik gevestig op volkstipes, eenvoudige lui, kleindorpse lewe en die noue lewenskringe daarvan.

Hoewel Boerneef hom aanvanklik op die prosa toespits, slaan hy later oor na die poësie, eers met ’n paar gedigte in die verhalebundel Teen die helling en later met volwaardige digbundels. Sy volksverse bring vernuwing in die digkuns weens die aardsheid en moderniteit daarvan. Die musikaliteit en ritme is veral kenmerkend van sy gedigte. Dit is juis hierdie musikaliteit van sy poësie wat onder andere die komponis Pieter de Villiers geinspireer het om heelwat van Boerneef se bekendste gedigte te toonset, waaronder Die berggans het 'n veer laat val en Aandblom is 'n witblom. Dit was 'n belangrike toevoeging tot die repertoire van die Afrikaanse lieder, en 'n gunsteling van die wêreldbekende Suid-Afrikaanse sopraan Mimi Coertse. In Flennie die Snare word heelwat van die ouer Boerneef toonsettings gehoor soos Die Berggans het ‘n veer laat val en Voshaarnooi, maar ook splinternuwe opwindende toonsettings deur Rudolph Pretorius, Anna Davel, Chris Chameleon en Stef Bos.

Frans Swart is die regisseur en ook skrywer en verwerker van Flennie die Snare. Hy is ‘n Boerneef-liefhebber en het reeds dertig jaar gelede ‘n Boerneef-produksie saam met die PATSO-toneelspelers aangepak. “Flennie die Snare is baie persoonlik vir my. Juffrou Aletta Gericke van die ADK was my mentor en het my al baie vroeg in my lewe bekend gestel aan die wonderwêreld van Boerneef. Daardie woorde wat klank en musiek word. Kyk man, ons moes Boerneef vir juffrou Aletta doen tot dit by ons ore uitkom. Ironies genoeg, toe ek my eie Dramaskool jare gelede gehad het, moes die dramastudente ook Boerneef doen tot dit by hulle ore uitkom.” Frans lag lekker en sê Flennie die Snare het eintlik net gewag om te gebeur. “Dit moes gebeur! Een dag gesels ek met Philna Scholtz van die Innibos Kunstefees, wat net so lief is vir poësie soos ek is en ek sê dis nou tyd vir ‘n Boerneef-produksie. Net daar sê Philna toe – maar kom ons doen Boerneef. Ons hier by Innibos gaan jou help om Flennie die Snare op die planke kry! En so is Flennie gebore”.

Swart is baie opgewonde oor die rolverdeling. “Alles het net in plek geval. Ek wou so graag vir Chris Chameleon gehad het om in Flennie op te tree. Nie net as sanger nie, maar ook as akteur. Chris het onmiddellik ja gesê en hy bring ‘n ongelooflike kreatiwiteit na die produksie toe. Anna Davel het ‘n ongelooflike stemkwaliteit, maar sy is ook ‘n besonders talentvolle aktrise. Anna bring daardie nostalgiese musikaliteit, sy sing en speel toneel. Johny Klein is akteur van formaat en ons het hom in die diepkant ingegooi, want in hierdie produksie gaan jy ook vir Johny hoor sing. Danielle Deysel is ook sangeres en aktrise en Daniella bring veral Boerneef se speelsheid na die produksie.”

Wat kan gehore te wagte wees? Frans antwoord entoesiasties! “Pret en nogmaals pret. Baie mooi sang en musiek, toneel, poësie, lekkerlag komedie en baie hartseer drama en nostalgie. Hope daarvan. Jy weet Boerneef was ‘n volksdigter en ‘n volksskrywer. Hy het oor alledaagse mense en dinge geskryf. Hy het ook geskryf soos die mense die Taal gepraat het daar in die Koue Bokkeveld. Hy het hom ook min gesteur aan wat die letterkundiges van die tyd oor sy werk gesê het. Hy het geskryf oor dit wat vir hom lekker en mooi was. Ek spot altyd en sê hy was eintlik soos die Lefra van daardie tyd se letterkunde! Eerlik, maar lekker kommersieel! Mense moenie ‘n swaar letterkundige affêre verwag nie – Flennie die Snare is lig en loslit en Boerneef se woorde steeds so vol klanke en musiek soos altyd! En ek kan ook ‘n geheimpie uitlap – die orkes speel ook toneel. So as jy altyd vir Jaconell Mouton, Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg as akteurs wou sien, mag jy nie Flennie die Snare misloop nie.”

Musikale regisseur Jaconell Mouton is op Citrusdal gebore en het grootgeword op 'n pragtige lemoenplaas met ‘n uitsig op die Sederbergberge; Boerneef se wêreld. Sy het op die ouderdom van vier jaar op gehoor begin klavier speel, en het op agt jaar geleer hoe om musiek te lees en met haar klassieke begin opleiding begin. Na skool het sy aan die destydse Pretoria Technikon, nou beter bekend as die Tshwane Universiteit van Tegnologie, Jazz studeer en word vandag beskou as een van Suid-Afrika se top musikale regisseurs.   Haar werk sluit lewendige optredes, albums, DVD's en TV-werk in. Jaconell is veral bekend as deel van die Musiekfabriek op televisie se Noot vir Noot.

Regisseur en skrywer, Frans Swart is reeds die afgelope 38 jaar baie aktief in Suid-Afrika se vermaaklikheidswêreld. Hy begin sy loopbaan as TV-kameram by die SAUK waar hy dan ook heelwat kinderreekse vir televisie skryf. Hy publiseer sy eerste kinderboek, Blouvlam die Draak op die ouderdom van 22. Hy maak ‘n draai in die Skakel- en Bemarkingswese, maar sy eerste liefde bly die teater en word hy aangestel as die Direkteur van die Springs Stadsteater. Vir die afgelope vyftien jaar is Frans die Besturende Direkteur van Lefra Produksies. Hy doen onder andere die regie van Liewe Heksie, My Man se Vrou se Man, My Man se Lyk se Tas, My Boetie se Sussie se Ou, Daa’ Gaat die Bruid en My Man se Skelmpie se Skelmpie se Vrou wat hom die titel van Klugkoning van Suid-Afrika gee. Hy het vanjaar ook die regie waargeneem van Dalene Matthee se Fiela se Kind.

Chris Chameleon - vernuwend, prolifiek en eindeloos kreatief, het bekend geraak in Suid-Afrika, asook oorsee, as ‘n musikale fenomeen. Met ‘n eiesoortige styl, bekoorlike verhoogpersoonlikheid en ‘n reputasie om gehore met sy vier-oktaafstem en stemtoertjies te betower, het sy uitsonderlike talent hom uitstekende resensies en vele toekennings besorg oor die afgelope 27 jaar. Toekennings sluit drie Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (SAMA’s) en ‘n Erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in. Na sy suksesse tussen 1990 en 1995 met sy eerste orkes, die eklektiese Blue Chameleon, het Chris Chameleon in 1997 die orkes Boo! gestig, ‘n musikale drietal wat in die tussentyd ‘n wêreldwye kultusaanhang verwerf het. Toe Boo! se medegroeplede besluit het om ander heenkome te soek in 2004, het Chris Chameleon sy vlerke gesprei deur sy Afrikaanse en Suid-Afrikaanse herkoms te ondersoek. Hy het die hoog-aangeskrewe album Ek Herhaal Jou uitgereik – verwerkings van die poësie van die ikoniese digter uit die Sestigerjare, Ingrid Jonker. Verskeie albums en DVD-vrystellings volg en in April vanjaar het Chris sy nuutste album Jy en Ek en Ek en Jy vrygestel.

Met 'n kombinasie van haar soel stem, sielvolle optredes en pragtige liedjies wat sy skryf, fassineer die veelsydige Anna Davel al vir twee dekades haar gehore. Dit het in 1997 begin toe sy as die algehele wenner van die jaarlikse ATKV Crescendo-kompetisie aangewys is met haar eie komposisie Viooltjies, wat haar gevestig het as sanger, liedjieskrywer en kunstenaar insluit. Die liedjie het 'n merkwaardige indruk gemaak met sy tema van huishoudelike geweld. Sy het haar diploma in Ligte Musiek en Jazz by die Tshwane Universiteit van Tegnologie in 1998 verwerf, en het in dieselfde jaar by die gewilde Cutt Glass aangesluit, waar sy lid was tot 2003, waarna haar sololoopbaan vlam gevat het, en het sy sedertien nege albums en ‘n DVD uitgereik, en talle musiekproduksies vir teater en feeste die lig laat sien.

Toe die teatergode wink, was Johny Klein gereed om te antwoord en sedertien laat hy geregtigheid geskied aan enige rol wat na sy kant toe kom. Johny is ‘n trotse boorling van Groblershoop in die Noord–Kaap. Terwyl die geleenthede in ‘n klein dorpie maar skraps is, het hy nog altyd geweet dat hy sy roeping moet vervul. Na sy formele opleiding by die Tshwane Universiteit van Tegnologie, het die gesoute aktrise en teater-ghoeroe, Ilse Klink, hom onder haar vlerk geneem en verder help slyp aan sy talente. Johny is op sy beste voor ‘n stampvol gehoor en het hy ondermeer uitgeblink as die nimlike Mnr. Pret wat skoolkinders landwyd in vervoering het. Een van sy heel grootste drome is bewaarheid toe hy die rol in Fiela se Kind losgeslaan het en saam Shaleen Surtie-Richards die verhoog deel. Johny is ook onlangs gehoor in RSG se boekvoorlesings en sy stem word dikwels in radiostories gehoor.

Daniella Deysel is gebore en getoë in die verruklike Namibië, en het sy haar skeikunde, aardrykskunde en biologie handboeke ingeruil vir grimering, die verhoog en die ligte! Sy het haar BA Drama graad in 2011 aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. In 2012 is sy die stem van Ingrid Jonker op die DVD Klank van jou oë, ‘n opname van ‘n uitvoering van werk van Jonker deur Chris Chameleon. Die jaar daarna werk sy weer saam met Chris aan Herleef, waar sy die agtergrondstem verskaf. Die samewerking word voortgesit en in 2014 sien die album Posduif die lig, wat oorspronklik net toonsettings van Daniella se gedigte was en gedurende die opname proses in ‘n duet-album verander het.

Mauritz Lotz is 'n bekroonde kitaarspeler, gerespekteerde vervaardiger en komponis. Sy werk kan op meer as 4,000 opnames gehoor word. Met 'n loopbaan wat oor die 30 jaar strek, het hierdie gevierde kunstenaar vir hom sy regmatige plek in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis verdien.

Riaan van Rensburg is deel van een van Suid-Afrika se mees geliefde musikale families, die enigste seun van Johan van Rensburg en Rina Hugo. Volgens Riaan was musiek sy passie vir so lank as wat hy kan onthou. Sy ouers het vroeg reeds hierdie passie raak gesien en aangemoedig, en het Riaan in 1980 op die ouderdom van net vier jaar oud op sy eerste televisie-optrede gehad. Ironies genoeg was Frans Swart kameraman op daardie program waar die kleine Riaan die dromme so gemoker het. Riaan is ook deel van Noot vir Noot se Musiekfabriek vir meer as 30 seisoene.

Kom raak verlore in Boerneef se Boplaas - van Vlettervlie tot Koesnaatjie! Bespreek nou by Computicket. O ja, die Ligstraalsusters van Calitzdorp kom ook optree! Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000 of by enige tak van Computicket. Ook op die webtuiste www.computicket.com Groepe meer as 10, kry lekker afslag – skakel vir Monica by (011) 815 3000. Besoek gerus ook www.flenniediesnare.co.za

 abr logo280