Get Adobe Flash player

Binnelanders se Zak Hendrikz en Cindy Swanepoel in “MY MAN SE SKELMPIE SE SKELMPIE SE VROU” by vanjaar se KKNK

Binnelanders se Zak Hendrikz en Cindy Swanepoel in “MY MAN SE SKELMPIE SE SKELMPIE SE VROU” by vanjaar se KKNK
Share

Lefra Produksies, klugkonings van Suid-Afrika, debuteer met ‘n splinternuwe klug by vanjaar se KKNK, “MY MAN SE SKELMPIE SE SKELMPIE SE VROU”  Hierdie skreeusnaakse klug speel by die KKNK se Weermag Ouditorium op die volgende tye: 8Apr (10:00); 9 Apr (14:30); 10 Apr (10:00), 11 Apr (10:00); 12 Apr (14:30); 13 Apr (19:00); 14 Apr (19:00); 15 Apr (19:00).  Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000.

Frans Swart, regisseur en die man wat die afgelope klompie jare groot sukses met Lefra se klugte gehad het, sê hierdie is dalk die malste klug ooit.  “Jy moet kop hou in SKELMPIE.  Dis werklik ‘n dolle gejaag in die soeke na wie se “skelmpie” is eintlik wie se “skelmpie.”  My span spelers is werklik so talentvol en verstaan werklik die klug-genre baie goed.  Daarom kan gehore werklik verwag om heerlik te lag en te ontspan.  Vir my bly die klug sekerlik die moeilikste teatervorm, maar steeds die lekkerste,” sê Swart

Die skreeusnaakse West End-treffer speel in Arno Schaap se elegante pels-salon af, SCHAAP, SCHAAP & ZUMA. Arno Schaap (Zak Hendrikz), `n flambojante ekstrovert, beplan om `n pragtige jong ontkleedanseres, Janie (Jennifer Myburgh) , met `n peperduur nerts te verlei deur dit vir spotgoedkoop aan haar man, Harry Vlok (Phillru van Achterbergh), te verkoop. Harry besluit om die nerts eerder vir sy skelmpie, Sue (Anel du Plessis) , te koop.  Janie trek haar klere in die salon uit en weier om die salon sonder die nerts te verlaat. Pogings om die nerts terug te kry en die naakte Janie te versteek, word omgekrap wanneer Gilbert se vrou, Maude (Cindy Swanepoel) , onverwags opdaag. `n Klug op sy beste.

MY MAN SE SKELMPIE SE SKELMPIE SE VROU spog met ‘n baie talentvolle rolverdeling.  Ana van Achterbergh, Anel du Plessis, Botha Enslin, Cindy Swanepoel, Elma Potgieter, Francois van Rensburg, Jennifer Myburgh, Rouel Beukes, Phillru van Achterbergh en Zak Hendrikz.  Frans Swart is regisseur en verwerker met Phillru van Achterbergh as Assistent-Regisseur.

Zak Hendrikz verwerf sy diploma in Musiek Teater aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Hy het natuurlik groot bekendheid verwerf vir sy rowwe karakter, Eben in Binnelanders.  Hy werk as regisseur en choreograaf op verskeie musiekvideo’s en produksies, onder andere Equus, Bagasie, White Powder, Onderwêreld, Willem Poprok, Piekniek op die Slagveld, Lien se Lankstaanskoene en die produksie Krotoa wat befonds is deur die KKNK. Hy is ook mede-regisseur en vervaardiger van die familie-muskiekspel African Adventure wat ʼn Naledi-toekenning in 2012 verwerf het. Musiekvideo’s sluit in vele Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Jani, Wouter Kellerman, André G. Nel en Suzi and the Swans. Sy film- en TV- krediete sluit in Bakgat! 3, Leon Schuster se Mr Bones in Durbs, Donkerland, Sterlopers, Laugh Out Loud 5 en die rol van Gerhard in Askies. Onlangs was hy te sien in die teaterproduksie I Have Life - Alison’s Journey waar hy die rol van Frans du Toit vertolk het. Ander teaterkrediete sluit in Starlight Express, Reza de Wet se Drif, Reik na die Sterre: Die Musical, Footloose, Hair, The Rocky Horror Show, Houtkruis: Die Musical, Spongebob Square Pants: Die Musical, Janice Honeyman se Peter Pan en Snow White, Mysterious Skin, Ballade vir ʼn Banggat, Joseph and his Amazing Technicolor Dreamcoat, en Grease – wat in 2010 internasionaal getoer het.

Cindy Swanepoel het in 2003 met ’n BDRAM-graad aan die Universiteit van Stellenbosch gegradueer.  Cindy is veral bekend vir haar rol as Annelize in Binnelanders. Sy het uitstekende ondervinding in kinder-, korporatiewe-, onderrig- en industriële teater. Sy het al in meer as 20 kinderproduksies verskyn. Verhoogproduksies waarin sy die hoofrol vertolk sluit in Kringe in ’n Bos, ’n Tyd om Lief te Hê, Houtkruis: Die Musical, Dalliances, The Crucible en Curl Up and Dye. Sy het vir Lefra Produksies gespeel in die komedie My Boetie se Sussie se Ou wat na alle Afrikaanse feeste in Suid-Afrika en Namibië reis. Dit is ook by die Oppiwater Kunstefees op die MSC Opera vertoon. Teaterstukke waarin sy verskyn, sluit Equus, Drif en Mysterious Skin in. Cindy het ook baie ondervinding voor die kamera. Sy het al haar verskyning in sepies soos Egoli, 7de Laan, Villa Rosa en Generations gemaak. Sy het ook as gasspeler in die volgende dramareekse verskyn: 90 Plein Street, The Mating Game, Geraamtes in die Kas, Sterlopers, Pandjieswinkelstories en Ons Stories. Cindy het ook in die reeks Laugh out Loud verskyn. Sy is ook ’n gasspeler in die gewilde komedie-reeks Proesstraat. Cindy was ook te sien by vanjaar se Silwerskermfees in die kortfilm Eenrigting waarvoor sy genomineer is as Beste Aktrise. Sy het ook haar eie produksiemaatskappy, Poko Produksies, wat spesialiseer in skadu-teater. Poko Produksies het al vir SASOL, SA Mint en PPC Cement unieke “skadu-vertonings” verskaf. Poko was ook genooi om by die Fleur de Cap Theatre Awards en Oppikoppi op te tree.

 

 abr logo280