Get Adobe Flash player

Toe vind ek jou met Karen Zoid en Francois Van Coke totaal uitverkoop by Carnival City

Toe vind ek jou met Karen Zoid en Francois Van Coke totaal uitverkoop by Carnival City
Share

Die TOE VIND EK JOU-vertoning met Karen Zoid en Francois van Coke by Carnival City op 8 Julie is nou totaal uitverkoop.  Die baie suksesvolle SPOEGWOLF gaan die voorvertoning doen vir TOE VIND EK JOU!  Dit word aangebied deur Lefra Produksies met die vriendelike samewerking van Stuttaford van Lines, RSG, McCarthy Volkswagen Arcadia en Carnival City.  Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000. 

Frans Swart, Hoof Uitvoerende Beampte van Lefra Produksies sê hy is baie opgewonde dat hierdie vertoning totaal uitverkoop is.  “Ons het besluit om twee groot Arena-vertonings met hierdie wonderlike kunstenaars te doen – een in Kaapstad en een in Johannesburg by Carnival City.  Dit is ‘n wonderlike produksie en gehore gaan dit beslis baie geniet.  Met die Kaapstad vertoning het ek gesê dat dit soos ‘n ongelooflike mooi kunswerk vir my was.”  Swart sê ook dat mense wat moontlik nie nou kaartjies kon kry nie, daar moontlik nog TOE VIND EK JOU-vertonings sal wees.  “Ons beplan om ten minste nog twee groot Arena vertonings in Gauteng te doen, want die aanvraag is ongelooflik groot.  Ons sal binnekort ‘n aankondiging maak oor waar die ander groot Arena vertonings gaan plaasvind.”

In April 2015 het Francois van Coke en Karen Zoid seker die mooiste ballade van alle tye vrygestel ... TOE VIND EK JOU.  Die liedjie het almal reg oor die land begeester en het verskeie ligte aangeskakel in die donker.  TOE VIND EK JOU het die eerste Afrikaanse vrystelling geword om die Nr 1 posisie op kommersiële radio in Suid-Afrika.  Die musiekvideo het ongelooflike sukses behaal en het reeds meer as 'n miljoen "hits" op YOU TUBE.  Nou kry gehore die geleentheid om hierdie twee legendes saam op een verhoog te sien.

SPOEGWOLF is 'n Afrikaanse musiekgroep van die Paarl wat in Februarie 2012 gestig is en open vir Karen en Francois.  Die viermanskap, wat bestaan uit Danie du Toit (sang en kitaar), Chris von Wielligh (kitaar en sang), Moskou du Toit (tromme, perkussie en sang) en Albert van der Merwe (baskitaar en sang), is veral bekend vir die liedjie Lenie Blou, wat op hulle eerste vollengte-album, Swaartekrag, verskyn het.  “Ons is broers en pelle wat ‘n band gestig het”, gesels die manne.  Moskou, die drommer, en Danie, is broers.  Albert is Danie se beste vriend, en Chris is boesemvriend van die hele groep.  “Ons was almal saam op skool en het saam ge-bunk op Paardeberg, waar baie van ons planne ook gemaak is”.

Op hulle webwerf praat hulle van hulle musiek as “regte Afrikaans”, musiek wat geskryf word met eerlikheid.  Die Volksblad beskryf hulle musiek as sielvolle rock, wat Afrikaans vier.  Hulle lirieke is poëties, en die musiek hard.  Hulle tweede album, Somer, is verlede jaar vrygestel na twee jaar se harde werk. “Daar word moeite gedoen met die lirieke.  Dit vorm die basis van wat jy wil oordra”, vertel hulle.  En natuurlik, die vraag op almal se lippe: hoekom Spoegwolf?  “Ons het gehou van die klank daarvan.  Dis hard, maar dit vloek nie.  Ons het gedink dit is ‘n sterk, maar herkenbare naam”.

 abr logo280