Get Adobe Flash player

VYF VRAE AAN DIE SKRYWER VAN GROET DIE GROTHELD, FRANS SWART

VYF VRAE AAN DIE SKRYWER VAN GROET DIE GROTHELD, FRANS SWART
Share

Lefra Produksies spog met ‘n nuwe treffer eenmanvertoning, GROET DIE GROTHELD met Cobus Venter as die Grotheld.  GROET DIE GROTHELD het onlangs met groot sukses sy premiére op die Oppiwater Kunstefees gehad en toer tans regdeur die land.  GROET DIE GROTHELD speel op 3 Junie by die Atterbury Teater en is daarna te sien by die INNIBOS KUNSTEFEES (28 Junie – 1 Julie) en daarna by die Vrystaat Kunstefees (13-17 Julie).  Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000.  Groepe meer as 10 kry ‘n lekker afslag – skakel Lefra Produksies by (011) 815 3000 of besoek www.grotheld.co.za  GROET DIE GROTHELD toer tans deur Suid-Afrika. Indien jy belangstel om GROET DIE GROTHELD in jou stad of dorp aan te bied, skakel vir Lefra by (011) 815 3000 of epos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Ons het vir die skrywer, Frans Swart, gepeper met vyf vrae oor GROET DIE GROTHELD.

Vraag 1: Jy was instrumenteel in die sukses van GROET DIE GROTMAN en julle het vir langer as 10 jaar met meer as 1 000 vertonings gespeel.  Is GROET DIE GROTHELD ‘n opvolg op GROET DIE GROTMAN?

Frans:  GROET DIE GROTHELD is beslis nie ‘n opvolg op GROET DIE GROTMAN nie. Inteendeel.  GROET DIE GROTHELD is ‘n splinternuwe produksie wat op sy eie bene staan.  Ek het wel besluit om die storie in die “GROT” te plaas, want verhoudings in gesinne is steeds dieselfde van toentertyd tot nou toe.  Niks het eintlik verander nie.  Al die krisisse is steeds daar … die liefde … die misverstande … die konflik … die nie-verstaan van mekaar …  die drama.  Alle aspekte van die werkinge van ‘n gesin, glo ek, was nog maar altyd dieselfde sedert die Grotman saam met sy pelle gaan sport kyk het en na die tyd ‘n brousel gedrink het.  So, juis daarom het ek gedink die oeroue Grot is ‘n baie goeie plek om die Grotheld te laat afspeel.  Onthou, mans was in die Grottyd almal helde … of jy nou ‘n haas of ‘n bok huis-toe gebring het, het die hele familie jou geëer, want jy het kos gebring.  Dit het almal se voortbestaan verseker.  Dinge lyk vandag heeltemal anders, maar die basiese beginsels van ‘n Pa wat wil sorg vir sy gesin, is steeds deur al die tye behoue gebly.

Vraag 2: Hoekom juis ‘n Grotheld?  Waar kom die “held” in die storie in?

Frans: Ons het almal helde.  Of ons wil graag helde hê,  Daar is deesdae soveel superhelde en ons almal wil tog maar soos een van hierdie superhelde wees. Ons wil ‘n verskil maak, maar die belangrikste is dat ons tog net ietsie wil reg doen.  Gert Struwig (dis nou ons Grotheld) is ‘n rugbyman … ‘n Bloubul.  Maar ons sal dit natuurlik nooit teen hom hou nie.  Rugby is vir hom baie belangrik en hy leef sy rugby.  Maar soos baie Pa’s wonder hy of hy sy seuntjie, Heinrich, reg groot gemaak het.  Dan begin hy worstel met die vraag: “Is ek my laaitjie se held?”

Vraag 3: Hoekom het jy juis rugby gebruik om die storie te vertel?

Frans:  Rugby in Suid-Afrika is so ‘n universele sport.  Dit maak nie waar jy in Suid-Afrika kom waar manne saam rugby kyk nie … jy gaan ‘n Gert Struwig of twee daar vind.  Ek gebruik die robuuste sportsoort, rugby, as metafoor, om die baie mooi storie van Gert, Karin en klein Heinrich te vertel.  Die kontras van rugby en die rowwe Gert teenoor Gert die gesinsman werk ongelooflik mooi.  Gert is ‘n doodgewone ou wat daarvan hou om rugby te kyk en ook met rugby betrokke te raak.  Maar dan is hy ongelooflik lief vir sy gesin en uiteindelik draai alles net om sy gesin.  Ek moet sê gehore is nogal verras oor hoe die storie uiteindelik ontwikkel.

Vraag 4: Is GROET DIE GROTHELD snaaks? 

Frans:  Ja beslis.  Ek moet sê die gehore vir wie ons nou reeds gespeel het, het geskaterlag.  Rugbystories is volop en Gert en sy common pel, Stefan, haal mekaar maar lekker uit oor die rugby.  Gert is ‘n BlouBul en Stefan ‘n Cheetah.  Daar is egter ‘n kinkel in die kabel wat ek nie nou wil weggee nie, maar ek kan maar net vir mense sê daar is nogal ‘n groot verrassing aan die einde.

Vraag 5: Wat wil jy met GROET DIE GROTHELD sê?

Frans:  Behalwe dat mans gerus teater toe kan kom en Grotheld kom kyk, want daar word baie rugby gepraat, wil ek vir alle Pa’s sê: “Julle is OK … maak nie saak waar jy miskien te kort geskiet het nie … jy sal altyd jou laaitie se held bly!”

 abr logo280