Get Adobe Flash player

Lefra produksies open met splinternuwe #lekkerlagklug “DAA’ GAAT DIE BRUID!” by KKNK

Lefra produksies open met splinternuwe #lekkerlagklug “DAA’ GAAT DIE BRUID!” by KKNK
Share

Deur Ray Cooney en John Chapman

Vertaling en Verwerking Frans Swart

Regisseur en Vervaardiger Frans Swart

Met Ana van Achterbergh, Cobus Venter, Debrè Rossouw, Edrien Erasmus, Gert van Tonder, Lieb Bester, Marga van Rooy en Phillru van Achterbergh

Stel Hugo Hewitt

KKNK, Oudtshoorn, Johnny Bisschoff-saal

Donderdag, 24 Maart @ 19:00 | Vrydag, 25 Maart @ 09:00 | Saterdag, 26 Maart @ 19:00 | Sondag, 27 Maart @ 09:00 | Maandag, 28 Maart @ 09:00 | Dinsdag, 29 Maart @ 14:00 | Woensdag, 30 Maart @ 09:00

Besprekings: Computicket by 0861 915 8000 of www.computicket.com

Groepe van meer as 10 & gasvryheidspakkette: Skakel 011 815 3000 of e-pos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Lefra Produksies is reeds bekend vir hulle lekkerlagklugte wat gehore landwyd sedert 2012 vermaak, en vanjaar is klugkoning Frans Swart se Afrikaanse vertaling van Ray Cooney en John Chapman se weghol-treffer, Daa’ Gaat die Bruid! aan die beurt en besoek die KKNK in Oudtshoorn vanaf 24 tot 30 Maart.  Die produksie speel elke dag by die Johnny Bisschoff-saal en besprekings kan gedoen word by Computicket 08619158000 of by www.computicket.com   Die oorpsronklike There Goes The Bride is een van Cooney en Chapman se mees suksesvolle Westend-klugte tot op hede, en uittreksels vanuit die Londonse resensies beskryf die klug dalk die beste: “... die klug word lawwer en snaakser soos dit aangaan... dit het tempo, presisie en vernuf”, was die uitspraak in die London Daily Mirror.  Volgens die BBC is dit “briljant geskryf”.  Daa’ Gaat die Bruid! spog met top akteurs soos Ana van Achterbergh, Cobus Venter, Debrè Rossouw, Edrien Erasmus, Gert van Tonder, Lieb Bester, Marga van Rooy en Phillru van Achterbergh.  Frans Swart hanteer weer die regie.  Swart sê hy is baie opgewonde oor Daa’ Gaat die Bruid!  “Die lekkerte is dat hierdie klug nog nooit in Suid-Afrika opgevoer is nie, en dus ken niemand die storie of ontknoping nie”.  DAA’ GAAT DIE BRUID word in samewerking met Stuttaford van Lines, McCarthy Volkswagen Arcadia, RSG en Sounds Good aangebied.

In Daa’ Gaat die Bruid! is dit die oggend van Judy (Debrè Rossouw) se troue.  Alles is in rep en roer om alles in gereedheid te bring vir die troue later die dag.  En dan slaan die klug toe!  Terwyl Judy en haar ma, Ursula (Edrien Erasmus) gereed is om kerk toe te vertrek, kry haar pa Malan (Cobus Venter), die uitvoerende hoof van ‘n advertensiemaatskappy, ‘n hou op die kop en dan begin die poppe dans – letterlik!  Polly (Ana van Achterbergh), ‘n pragtige “cut-out” meisie van een van sy advertensieveldtogte, kry lewe.  Voeg daarby ‘n seniele ouma (Marga van Rooy), ‘n moeilike oupa (Lieb Bester), ‘n verdwaalde skoonpa (Gert van Tonder), ‘n flambojante assistant (Phillru van Achterbergh) en ‘n deur of drie, en jy beskik oor al die lekkerlag elemente van nog ‘n histeriese Lefra-klug!

Ana van Achterbergh het haar B-Tech Diploma in Drama en Film verwerf aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) in Pretoria.  Haar liefde en passie vir drama kom al van kleintyd af waar sy op laer- en hoërskool aan elke kunswedstryd en Eistedfodd deelgeneem het, kultuurster geword het en die toekenning as beste redenaar en akteur in haar Hoërskool.  Toe sy elf-jaar oud was, het sy die drama afdeling op die televisieprogram Star Search gewen.  Ana is natuurlik ook Suid-Afrika se Liewe Heksie, en speel reeds sedert 2010 in die produksie.  Ana was voorheen radio omroeper by Oos-Rand Stereo 93.9FM en het die regie van verskeie ATKV-tonele behartig en kortfilms geskryf.  Ana was in 2014 te sien as Mary in My Boetie se Sussie se Ou en het die rol van Katarina vertolk in verlede jaar se My Boetie se Boetie se Boetie se Baba. 

Oor die laaste dertien jaar trap Cobus Venter diep spore as sanger en akteur met hoofrolle in musiekblyspele soos My Fair Lady, Fiddler On The Roof, Dis Hoe Dit Was, Ons Vir Jou, Shaka Zulu, Jock of the Bushveld, Tree Aan!, Ester Die Musical, Cinderella, Jesus Die Musiekblyspel en Droomkind.  In 2010 word hy twee keer genomineer vir ’n Mercury Durban Theatre toekenning – as Don Quixote in Man of La Mancha en as Freddy Einsford-Hill in My Fair Lady – wat hy wen vir sy vertolking van Freddy.  Cobus maak ook sy merk op die dramaverhoog in produksies soos Siener In Die Suburbs (KKNK 2002), Swaelduif (KKNK 2003) en Full Circle in 2006.  As iemand wat daarvan hou om mense te laat lag wys hy ook sy slag in twee klugte onder regie van Pierre van Pletzen: Knypie Op Die Kant en Knypie 2: ’n Dubbeldosis. Hy is ook gereeld te siene in die skreeusnaakse komedies, Jou Gat My Skat asook Dorings En Rose wat steeds gereeld op toer is.  Sy hoogtepunte as klassieke tenoor sluit in: die Afrikaanse Oratorium, Die Skepping en die rol van posmeester Smit in die nuwe Afrikaanse opera, Poskantoor, wat onlangs as beste produksie by Aardklop 2014 bekroon is.  Hy het die rol van Tom Koekemoer vertolk in verlede jaar se My Boetie se Boetie se Boetie se Baba.

Nadat sy in 2005 aan die Marais Viljoen Hoërskool in Alberton gematrikuleer het, het Debrè Rossouw Drama studeer aan die Universiteit van Pretoria voordat sy haar Honeursgraad in Kabaret aan die Universiteit van Stellebosch voltooi het.  Tydens haar studies het Debrè in verskeie kore gesing en was ook ‘n lid van TUKS se Camerata.  Sy was te sien in produksies soos Cabaret, Amadeus, MacBeth, Assylum, the Musical en Haweloos, die Musiekblyspel.  Sy is reeds sedert 2010 te sien in Lefra Produksies se Liewe Heksie waar sy verskeie rolle vertolk.  Debrè is ook doenig agter die skerms en was produksiebestuurder op Dagbreek vir KykNet, is vennoot in ‘n produksiemaatskappy en skryf graag musiek.  Die temalied van die kortfilm Drukekrsbloed kom uit haar pen, en is sy ook deel van die popgroep Cortina.  Debrè was vroeër vanjaar by die Woordfees te sien in die produksie Onthou.

Die talentvolle aktrise en sangeres Edrien Erasmus begin in 2002 opvoerings doen onder die naam E3n en stel twee solo albums vry, Big Ben en Huisie innie Stad.  In 2008 & 2009 is sy deel die koorgeselskap van Add LIfe Produksies se Houtkruis, die Musical en is in dieselfde tyd te sien in Deon Opperman se Ons Vir Jou.  Televisiekykers sal haar onthou as die sekretarese Yvette in Sewende Laan.  Van haar ander rolle sluit in Ragel in die musiekblyspel Esther in 2011, Mrs. Chamberlain in die derde speelvak van Ons Vir Jou en ‘n verskyning Lied Van My Hart.  Sy doen in haar vrye tyd Poppeteater en 2011 vorm sy deel van die kinderteatergeselskap Boek Buddies.  In 2010 slaag sy haar Graad 8 "Rock School" eksamen deur Trinity College met lof, en het ook in 2011 haar Graad 8 in Opera met lof geslaag.  Praat van veelsydig!

Gert van Tonder was vir 15 jaar ‘n lid van die die gewilde sanggroep, Groep 2, en het gedurende hulle sangloopbaan sowat 17 langspeelplate opgeneem en ongeveer tien kortspelers.  Van hulle grootste treffers sluit in Die Oukraalliedjie, Die padda wou gaan opsit, Daar's niks soos ware liefde en 'n string draaitafeltreffers.  As deel van Groep2 ontvang Gert twee SARIE toekennings, vyf goue plate, en die Midem Trofee in Cannes, Frankryk tydens die Cannes musiekfees, waar hulle saam met bekendes soos, Tom Jones, Vera Lyn, Die Moody Blues, Paul McCartney, Udo Jurgens, Adamo en 'n klomp Europese kunstenaars en 'n veertig stuk orkes onder leiding van die bekende Franse dirigent, Franck Pourcel, opgetree het.  Nadat hy Groep2 vaarwel geroep het, het Gert hom meer toegespits op televisie- en rolprent werk, maar het steeds as solokunstenaar landwyd opgetree.  Hy het in verskeie radiodramas gespeel, sowat agt rolprente en 'n klomp televisiereekse.  Gert was vir 12 jaar mede-aanbieder van die gewilde kinderprogram Wielie Walie.  Hy is tans besig met opnames vir 'n nuwe CD, getiteld Mengsel, met 'n verskeidenheid Afrikaans en Engelse treffers van weleer, asook 'n paar nuwe skeppings.  Gedurende die afgelope 50 jaar het hy ongeveer 160 Afrikaanse lirieke geskryf, asook die musiek van ‘n groot aantal daarvan, wat deur onder andere. Groep2, Carike Keuzenkamp, Rina Hugo, Sias Reinecke, Dana Winner, Die Platinums, Amanda Luyt, Ed van Wyk en verskeie ander kunstenaars opgeneem is.  Gert is 'n opgeleide naturopaat en het meestersgrade in sielkunde en metafisika.

Lieb Bester begin sy loopbaan as akteur in 1969 op die verhoog vir die Afrikaanse Toneelgeselskap van Springs in Uys Krige se Die Ryk Weduwee.  In 1973 volg die eerste rolprent, Seun van die Wildtemmer van Willie van Rensburg, vervaardig deur Kavalier Films en onder regie van Bertrand Retief.  Hierna volg rolle in verskeie rolprente en televisiereekse, en is hy seker die bekendste as Prof. Fritz Retief in die sepie Villa Rosa.  Vir sy rol in Sterk Skemer word hy genomineer vir ‘n Avante Toekenning as Beste Akteur.  Hy is betrokke by radiodrama’s sedert 1974, en is ook ‘n gesoute musikant.  Lieb bespeel verskeie musiekinstrumente: klavier, orrel, trekklavier, konsertina en kitaar.  Hy was ook lid van die Suid-Afrikaanse Weermag en tree gedurende 2001 uit die diens met die rang van kolonel.  Lieb behaal die volgende opvoedkundige kwalifikasies: BA (Kommunikasiekunde/Opvoedkunde) (UNISA), DTO Nagraads (UNISA) en M Ed (UP).

Vanjaar is Marga van Rooy se 52ste jaar as professionele verhoogaktrise.  Nadat sy is 1965 die heel eerste Jamie Uys dramabeurs aan die Universiteit van Pretoria losgeslaan het, voltooi sy haar BA drama-graad en ook haar BA Honneurs-graad, cum laude.  Marga is in 1964 aangestel by die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste en speel uiteenlopende rolle, van Shakespeare tot Melt Brink, Tjekov tot Sophocles, waar sy heelwat nominasies en toekennings ontvang vir haar spel.   Tydens haar tyd by Sukovs vanaf 1994 tot 1995 verower sy die landwye Vita-prys vir haar drama Die Pakkamer as Dramaturg en beste byspeelster in Pieter Fourie se Groot Wit Roos.  Maar landswye bekendheid volg haar uitbeelding van Worsie se ma in die TV reeks Vetkoekpaleis.  Sy was ook te siene in Egoli, Sewende Laan en in 2015 Villa Rosa op Kyknet.  In 2014 verower sy die beste byspeelster titel vir die film Die Windpomp. Ook benoem vir n Safta vir Fanie Fourie se Lobola.  Na baie jare van optree in eenvrou vertonings by feeste bv. met Dot Serfontein, P.H. Nortje en mikro werke, word sy in 2015 genomineer as beste byspeelster vir haar rol by die feeste in Beauty Queen van Martin McDonagh o.l.v. Henry Mylne. (Vir n Fiesta toekenning).  Marga het die rol van Mevrou Koekemoer vertolk in verlede jaar se My Boetie se Boetie se Boetie se Baba.

Phillru van Achterbergh maak die geselskap van Daa’ Gaat die Bruid! voltallig.  Hy studeer Drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) en is tans ‘n deel van die groep Rembrandt van Rijn.  Die verhoog is vir hom egter ‘n bekende plek, en het hy in 2002 as klein seuntjie in die stuk Horings gespeel, wat in daardie jaar by die KKNK op die planke was.  Phillru het by TUT vier toekennings ontvang tydens die Universiteit se Rostrum Roulette-fees, waaronder die groot toekenning as Akteur van die Jaar.  Hy herhaal die sege ook en ontvang die TUT Department van Uitvoerende Kunste se toekenning as die algehele beste speler in die department.  Phillru is deel van die alternatiewe Afrikaanse musiekduo Rembrandt van Rijn, en het die rol van Boris vertolk in My Boetie se Boetie se Boetie se Baba in 2015.  Die vorige jaar was hy ook te sien in My Boetie se Sussie se Ou.  Hy is ook te sien in die Staatsteater se produksie van Porselein onder regie van Quintin Wills.

“Ons almal weet dat die oggend voor ‘n troue is redelik chaoties!  Veral as Oupa en Ouma nog van Bela-Bela (Oupa se weergawe: Beda-Beda) af kom, die blomme is nog nie daar nie, spyseniers is die hele huis vol, die bruid se rok is nie reg nie, en Pa is nog besig met ‘n belangrike kontrak!  Om nie eers van die Kaapse skoonmense te praat nie.  Hierdie is al die elemente waarmee ons almal ons self kan vereenselwig.  Vir die klug se onthalwe dalk so bietjie erger, maar ‘n situasie in elke huis.  Ek dink juis omdat ons met hierdie dinge kan identifiseer is dit so ongelooflik snaaks,” sê Swart, regisseur en ook vertaler en verwerker.  “Dit was so lekker vir my om Daa’ Gaat die Bruid! hier in Suid-Afrika te plaas … in die grênd gedeelte van Waterkloof op ‘n golflandgoed.  En natuurlik maak die Suid-Afrikaanse situasie dit nog snaakser.”  Swart sê dis wonderlik as gehore so lekker lag vir Bruid.  “Dis asof daar ‘n vlaag van energie in die produksie en in die gehore begin ontbrand wat wonderlik is. Dis so lekker as mense na my toe kom en sê hulle het hulle asem weggelag!”

Swart voeg ook by dat dit nog altyd vir Lefra Produksies belangrik is om met die produksies te toer.  “Alhoewel dit uit ’n logistieke oogpunt ’n nagmerrie is om met so ’n groot rolverdeling en stel te toer, gaan ons beslis die pad die land vol vat en dit moontlik maak vir die hele land om die produksie te sien.”

Bespreek jou kaartjies vir Daa’ Gaat die Bruid! nou by Computicket by 0861 915 8000 of www.computicket.com.  Vir groepbesprekings en gasvryheidspakkette, skakel Lefra Produksies by (011) 815-3000 of stuur ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

 abr logo280