Get Adobe Flash player

Wilna en Johnny tem Sun City in die eindronde van Sanlam se Kanker Uitdaagreeks

Wilna en Johnny tem Sun City in die eindronde van Sanlam se Kanker Uitdaagreeks
Share

KAAPSTAD. – Die gholfklubs van Hentiesbaai in Namibië en Randpark in Sentraal Gauteng het verlede week by die gesogte Sun City oord in Noordwes geskiedenis gemaak. Die Namibiër, Wilna Bredenhann, en Johnny Rossouw van Randpark het as die oorwinnaars uit die stryd getree na ‘n maandelange stryd in die Sanlam Kanker Uitdaagreeks.

In die meer as 780 klubkompetisies in Suid-Afrika en Namibië waaraan meer as 35 000 klubspelers sedert Februarie tot en met verlede week se eindronde deelgeneem het, is dit ‘n besonderse prestasie om uiteindelik as die kampioene gekroon te word.

Ofskoon dit nog nooit werklik vasgestel kon word nie, moet die reeks maklik as een van die grootste, indien nie die grootste, amateur-kompetisie ter wêreld beskou word.

Boonop is ‘n nuwe hoogtepunt bereik toe ‘n bedrag van R3 567 843.00 aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) vanjaar vir navorsing vir die dodelike siekte ingesamel is. Dit oortref alle vorige rekords.

Die eindronde was vanjaar baie emosioneel. Kanker het ‘n groot invloed op baie van die deelnemers se lewens gehad. Rossouw byvoorbeeld, se vrou is in 2011 met dié gevreesde siekte gediagnoseer, maar verlede Maandag het hy die goeie nuus ontvang dat sy skoon is.

“Dit was ‘n spesiale oorwinning,” het hy met trane in sy oë gesê. Rossouw se oorwinning het egter nie maklik gekom nie. Hy moes twee uittel-rondes oorleef om uiteindelik as die oorwinnaar gekroon te word. Hy het egter ook die tweede speler agtereenvolgens geword om die titel te wen as ‘n deelnemer vanuit die B-afdeling.

Daar was ander spelers in die eindronde soos Klaas Keffers van Lutzville in die Boland, Tracy Thesen van Gonubie vanuit die Grens en Elize Visser van Centurion in Noord Gauteng, wat almal deur hulle eie trauma gegaan het met persoonlike ondervindings met kanker.

Die Hentiesbaaier, Bredenhann, het ook taamlike teenspoed oor die laaste paar jaar gehad toe sy byna haar regterarm verloor het ná sy deur ‘n dak geval het. ‘n Rugoperasie het haar ook met skade aan die die senuwees in haar regterbeen gelaat.

Bredenhann is egter ‘n vasbyter. Vanjaar was die derde keer dat sy vir die eindronde gekwalifiseer het. En dit was skeepsreg vir haar. Die vorige twee kere het sy gekwalifiseer toe die eindronde nog op Sanlameer in Kwazulu-Natal beslis is, maar toe kon sy nie die knoop deurhak nie. Met haar laaste verskyning in KZN het ‘n verbroude sethou op die laaste putjie haar tweede laat eindig.

Bredenhann het egter vanjaar in haar dogter, Bonita, ook ‘n skitterende bondgenoot gevind. Bonita is ‘n beroepspeler op die Europese reeks vir vroue en sy het nie net haar ma van raad voorsien in die eindronde nie, maar ook die hele Namibiese kontingent onder haar vleuels geneem! “Die senuwees knaag mos maar, maar sy het dadelik gekom toe ek op haar knoppie gedruk het ná ek haar gebel het,” het sy gesê.

Bonita se raad aan Wilna was om nie die punte te jaag nie. “Dit sal vir hulleself sorg. Bly net binne jou beperkinge en probeer met elke hou die beste hou te speel,” het sy gesê. Dié raad moes beslis gehelp het. Bredenhann het met elke ronde, en veral oor die tweede nege beter gespeel en so verseker dat sy die titel Namibië toe kon neem.

 abr logo280