Get Adobe Flash player

Rugby, East Rand style

Rugby, East Rand style
Share

An article in todays Beeld which you may miss, but shouldn't as it will make your eyes go all misty in fond memories of rappy, played Pee-Ee staail.

’n Klubrugbywedstryd in Johannesburg het só rof geraak dat selfs die Oos-Randse polisie op die vlug geslaan het.

“Ons het vir ons lewens gevlug,” het Jeremy Nel, voorsitter van die Oos-Rand Polisie-rugbyklub, Woensdag gesê ná die wedstryd tussen hulle en die Eden Park-rugbyklub.

Die wedstryd, in die Kestrel 3-liga vir klubs met net een span, is Saterdag by die Eden Park Primary-laerskool, in die suide van Johannesburg, gespeel. Dit is Eden Park se tuisveld.

Volgens Nel het gemoedere tussen die twee spanne hoog geloop vandat die fluitjie vir die afskop geblaas het.

Daar was talle insidente, totdat die skeidsregter die wedstryd in die tweede helfte gestop het – na bewering nadat hy self ’n klap gekry het.

Die telling was in daardie stadium 12-0 vir die polisieklub toe ’n volskaalse geveg daarna glo uitgebreek het.

Volgens Nel was daar ’n gestamp en gestoot van albei kante af wat ontaard het in ’n geslaan, getrap en geskop van Eden Park se kant af.

“Ons slot Christo Groenewald se neus is gekraak; die stut Niel Charlton is op die kuit getrap en kon nie verder speel nie; die losskakel, Hendrik van der Berg, moes agt steke op sy kop kry; die skrumskakel, André Carlson, is twee keer tussen die bene geskop; en die haker, Quinton Smith, is ook tussen die bene geskop.”

Ander spelers het glo ook deurgeloop, maar is net gering beseer.

“Ons het vir die vrouens en kinders gesê hulle moet in die kar klim en ry,” het Nel gesê.

Toe hulle egter die perseel probeer verlaat, het Eden Park se spelers glo die hek toegemaak en na bewering aan hul voertuie geskop, dit met bierbottels en bakstene gegooi en een motor se spieëltjie afgebreek.

“Jy’t net gesien hoe spat die bierbottel so teen die Land-Rover,” het Nel gesê.

“Ek was baie bang. Ons het verwag dat dit gaan rof wees, maar nie so erg nie.”

Volgens hom was geen toeskouers by die geveg betrokke nie.

Hulle beplan om kriminele aanklagte aanhangig te maak.

Jackie Pietersen, sekretaris van Eden Park Rugbyklub, het gesê hulle het mag nie nou op die bewerings reageer nie, omdat die saak by die Valke-rugbyunie is.

“Eden Park kan ook nou bewerings maak, maar die ding is net, dit gaan nie protokol wees om nou bewerings te maak nie.”

Hy wou ook nie reageer op die bewering dat hy self van die geweld aangehits het nie.

Daar is twee kante aan ’n saak, is al wat hy wou sê.

Die Valke hou vanaand ’n noodvergadering om die botsing tussen sy twee spanne te bespreek. 

 abr logo280