Get Adobe Flash player

VEERTJIEWENNER OMROEPER, FRANS SWART, WORD WEERHOU OM SY AFRIKAANSE TREFFERS UIT TE SAAI!

Share

Frans Swart is as Beste Omroeper vereer by die ATKV Veertjie Radioprystoekennings., is Donderdagaand uit sy Afrikaanse Treffers Ateljee by Oos-Rand Stereo 93.9FM uitgesluit en kon nie die program aanbied nie.  Swart is ‘n stigterslid van Oos-Rand Stereo wat hierdie jaar 20 jaar op die lug is.  Hy is onder andere bekroon met ‘n ATKV Veertjie Toekenning vir sy programme, AFRIKAANSE TREFFERS, PROFIEL en RENDEZVOUS.

Toe Swart teen 17:30 by die ateljees van Oos-Rand Stereo 93.9FM aankom, is hy ingewag deur die Casseldale Gemeenskapspolisieforum (CPF) wat hom meegedeel het dat hy nie toegelaat sal word om die hek binne te gaan nie.  Derhalwe kon hy nie sy gewilde Afrikaanse Treffers aanbied nie.  Mnr Barries Barnard van die Edelweiss CPF het aan Swart gesê dat hulle ‘n versoek van Oos-Rand Stereo gekry het om hom nie toe te laat tot die gebou van Oos-Rand Stereo en indien hy (Swart) met mag sou wou ingaan hulle die SA Polisiediens moes ontbied.  Hy wou nie sê wie die versoek aan hulle gerig het nie. 

Daarna het mev Marthie Kannemeyer (Bestuurder: Finansies, Administrasie en Menslike Hulpbronne) en Henry Bruinette (Omroeper en Waarnemende Programbestuurder) deur die hek gekom en ‘n skorsingsbrief aan Swart oorhandig.  Die brief se opskrif was duidelik: SUSPENSION AS EMPLOYEE OF EAST RAND STEREO – wat duidelik is dat dit nie skorsing is van Swart as Omroeper nie. 

Swart het toe aan die GPF gevra of hulle net ‘n briefie sal teken wat net bevestig dat hy daar was om sy program aan te bied en dat hy weerhou is om dit te doen.  Hulle het geweier.  Daarna het hy gevra of mnr Bruinette of mev Kannemeyer dit sou kon doen.  Hulle het gesê hulle het opdrag gekry om niks te teken nie.  Swart het vir hulle gevra wie hulle die opdrag gegee het en hulle het geweier om te sê van wie die opdrag gekom het.  Daarna het die GPF vir Swart gesê dat die SAPD so ‘n bevestiging sal teken.  Swart het toe gesê dat hulle gerus maar die SAPD kan ontbied.

Daarna het mnr Willie Delport aangejaag gekom en al skreeuend na Swart gestorm.  Hy het onder andere vir Swart gesê: “Jy wil net moeilikheid maak!  Jy weet jy mag nie hier wees nie.  Bring Smit (verwysend na ds Johan Smit, ook ‘n Direkteur by Oos-Rand Stereo) dan wys ek julle ‘n ding!  Ek sal julle altwee gelyk maak met die aarde.  Dis nou klaar.  Julle hou net aan en aan!”  Swart het aan Delport gesê dat hy nie die saak met hom wil bespreek nie en het in sy motor gaan sit en wag vir die SAPD.

‘n AO Naicker het na 40 minute opgedaag.  Swart het die saak aan hom verduidelik en gevra dat hy (Naicker) net ‘n bevestiging moet teken dat Swart nie toegelaat word om sy program aan te bied nie.  Hy wou dit ook nie teken nie en het gesê hy sal getuig indien die saak in die hof kom.

Swart is in Oktober 2014 wederegtelik geskors as Direkteur en is op 23 Maart 2015 geskors as Werknemer wat daarop aandui dat hy ook geskors is as Uitvoerende Direkteur: Programme.  Swart se regspan, Adv Nick van Rooyen van UASA en Mnr Phil van Blerk (Prokureur) het aangedui dat beide skorsings teëgestaan gaan word.  Adv Van Rooyen het gesê dat daar reeds ‘n dispuut aanhangig gemaak is by die CCMA teen die onwettige skorsing van mnr Swart as Uitvoerende DIrekteur: Programme.  Mnr Van Blerk het gesê dat die regsproses reeds aan die gang is om die skorsing en onwettige verwydering van mnr Swart as Direkteur,  in die hof teë te staan. 

Swart sê hy was totaal uit die veld geslaan.  “Ek bied reeds Afrikaanse Treffers vir 18 jaar aan en dis een van my programme wat my baie na aan die hard lê.  En om so behandel te word nadat ‘n mens soveel jare onbaatsugtige diens aan Oos-Rand Stereo gegee het, is beslis nie lekker nie.  Dit was ‘n ongelooflike vernedering, want daar was omtrent 10 mense teenwoordig wat gesien het hoe ek geintimideer is om nie my program aan te bied nie. Alles het in die straat gebeur en heelwat mense wat daar verbygery het, het my geskakel om te hoor of alles in orde is. Daar is nou reeds sedert Oktober 2014 ‘n vendetta en viktimisering teen my.  My Afrikaanse Treffers is ook sonder rede en eensydig van sy gewilde gleuf van Saterdae tussen 12:00 en 13:00 geskuif word na Donderdagaande tussen 18:00-19:00.  As luisteraars so gewoond raak aan ‘n gleuf, is dit nooit lekker as dit net summier geskuif word.” 

Swart het ook opdrag gekry dat hy nie meer toegelaat gaan word om sy gewilde Rendezvous en Musiek uit die Rolprente en Musiekblyspele op Sondae op te neem nie.  “Ek is Uitvoerende Hoof van Lefra Produksies en ons is heelwat weg op toere.  Ek het vir 20 jaar my programme opgeneem wanneer ek nie lewendig kan uitsaai nie.  Radiostasies reg oor die wêreld neem programme op.  Hierdie was ook een van daardie besluite wat geneem is om my te na te kom.  Dit is so jammer, want al wat skade lei is ons baie lojale luisteraars wat nou nie hierdie programme kan hoor nie.”

  • Swart is tans op ‘n nasionale toer met die Ierse groep, FOSTER AND ALLEN wat sewe konserte regoor die land aanbied.  Hy is ook regisseur van die gewilde MY BOETIE SE BOETIE SE BOETIE SE BABA wat by die ABSA KKNK opgevoer gaan word.

 

 abr logo280